Grewar-fotoalbum

Tuis

Jongste nuus

Grewar: Kort geskiedenis
Grewar: Stamboom

Grewar: Naamstudie

Bedrywighede
Familiestaaltjies
Fotoalbum

Skakels
Kontak ons

Grewar-genealogie Suid-Afrika

Grewar Genealogy South Africa

Ou foto's van die Grewars

Ons huidige foto-albumpie

Ons foto-album bestaan nog net uit 'n klein verskeidenheid foto's. Familielede is maar suinig om hul foto's beskikbaar te stel, omdat dit vir sommige mense té persoonlik is en dit nie graag aan die algemene publiek wil vertoon nie. Ons doen egter 'n beroep op almal wat in besit van ou foto's is, om dit aan ons te leen sodat ons dit in hierdie elektroniese album kan plaas.


Christoffel en Johanna Grewar

Christoffel en Johanna op Clocolan

Peter skryf:
Hierdie is tydens my oupagrootjie Grewar se Gouebruilof op Clocolan. Hy was Christoffel John Grewar, en sy vrou was Johanna Dorothea (gebore: Louwrens). Christoffel is op 28:10:1840 op Uitenhage gebore, en sy is op 21:10:1843 op Uitenhage gebore.

Christoffel en Johanna Grewar (II)

Christoffel en Johanna (II)

Peter skryf:
Hierdie is eintlik 'n mooier (en ouer) foto van die Grewars. Ongelukkig staan daar geen datum agterop nie. Ek kan dus nie sê hoe oud dit is nie, maar dis waarskynlik tussen 1880 en 1900 geneem.

Hierdie man (Christoffel Grewar) was my stamvader se oudste seun. Presies net soos met die Murrays, was die oudste kind 'n dogter wat oorlede is voordat sy kon trou. Vir alle praktiese doeleindes was hierdie man dus die oudste kind om die Grewar-nageslag in Suid-Afrika voort te sit.

Ek stam dus af van beide die Grewars en die Murrays se oudste seuns. John Murray is in 1818 in Kaapstad gebore, en Christoffel John Grewar was in 1840 op Uitenhage gebore. Dis fantasties om te dink dat ons bevoorreg is om albei hierdie stamvaders se fotos te besit. Al wat ons nou nog nodig het, is om uit te vind wanneer en waar hierdie twee manne gesterf het en begrawe is, want, GLO DIT AS JY WIL, ons besit nog nie daardie gegewens nie.

Skeefkop se aartappelkampioen

Skeefkop se aartappelkampioen

Peter skryf:
Dit is hoe my oupa gelyk het op 18 Mei 1896 toe hierdie foto op Heidelberg (Gauteng) geneem is. Dit was 6 jaar voor sy troue en 3 jaar voordat die oorlog uitgebreek het en hy hom by generaal C R de Wet se kommando aangesluit het. Hy het later bekendheid verwerf toe hy die Vrystaat se aartappelkampioen geword het. Sy plaas se naam was Skeefkop, en was in die distrik Clocolan in die Oos-Vrystaat.

Die Grewars van 1946

Die Grewars van 1946

Peter skryf:
Hierdie foto is waarskynlik in 1946 geneem. Daar is geen datum agterop geskryf nie, maar ek raai dit moet 1946 wees.

My ma, Phoebé, sit heel regs in die middelste ry. Ek is in Maart 1946 gebore, dus moes ek 'n baba van 'n paar weke of maande oud gewees het. Langs my ma sit haar suster Dorothy. Haar dogter is EEN dag na my gebore, dus moes sy ook nog 'n baie klein babatjie gewees het toe die foto geneem is. Die vrou tweede van links is tant Anna. Sy het 'n baba op haar skoot. Dit is my niggie Ixie, wat maar net een jaar ouer as ek is. As die baba jonger as een jaar oud was, beteken dit dat ek toe nog nie gebore kon gewees het nie. [Webmeester se kommentaar: aangesien sy ondersteun moet word, maar ook haarself met haar hande steun, sou sy so 7 maande oud wees.] Siende dat jou ouma se buik so klein is, MOES ek toe reeds gebore gewees het. [Webmeester se kommentaar: as Peter presies een jaar jonger as Ixie was, dan sou Phoebé op dié foto sowat 5 maande swanger moes wees, wat heel moontlik is want sy het wel 'n magie.] Heel voor, regs, sit by broer Isak, tans van Somerset-Oos. Hy behoort toe tussen 2 en twee en 'n half jaar oud te gewees het, want hy is presies 30 maande ouer as ek.

Voor van links na regs:
Anna van Zyl (Christo se dogter); Peter Grewar (Christo se seun); Mercia Smuts (Essie se dogter); en Isak Murray (Phoebé se seun).
Middel van links na regs:
Marietjie Grewar (Christo se vrou); Ignatius Grewar (Christo se seun); Anna Grewar (George se vrou); Ixie van Jaarsveld (George se dogter); Essie Michau; Gerald Michau (Essie se seun); Peter Grewar (George se seun); ouma Ignasina Wilhelmina Grewar (gebore Van Rooyen); Dorothy (Grewar-Hauptfleisch) Coetzee; en Phoebé Murray.
Agter van links na regs:
Christo Grewar; Rex Grewar; George Grewar; Andries Hauptfleisch (Dorothy se man); Samuel Murray (Phoebé se man); en Cornie Grewar.
Afwesig:
Oupa Peter Grewar (oorlede); Dawie Grewar (oorlede); George Michau (Essie se man); Helena Grewar (Cornie se vrou); Lana Nel (Cornie se dogter); David Grewar (Cornie se seun); Peter Murray (Phoebé se seun); en Nasina Froneman (Dorothy se dogter).

Grewars by die trekker

Grewars by die trekker

Peter skryf:
Hier is die foto van ons oupa Peter George Louwrens Grewar (links) saam met lede van sy gesin. Agter die stuur sit Peter George (met Foxterrier-hond) en voor hom is Esther. Regs voor is ouma Ignasina Wilhelmina (Van Rooyen) Grewar.

Oupa Peter was aan die begin van die twintigste eeu die Vrystaatse aartappelkoning. Hy was van die eerste boere in die Vrystaat wat McCormick Deering-trekkers gekoop het.

Christo en Marietjie Grewar se troue

Christo en Marietjie Grewar se troue

Peter skryf:
Christo Grewar, oudste seun van Peter en Ignasina Grewar van Clocolan, het op 16 Januarie 1935 op Ficksburg in die huwelik getree met Marietjie (gebore Van Niekerk). Christo is in 1983 oorlede en Marietjie in 1959. Hulle is albei op Clocolan begrawe. Agter die bruidspaar staan Dawie, tweede jongste broer van Christo, en derde van links is hul pa, Peter George Grewar.

Murrays en Grewars

Murrays en Grewars

Peter skryf:
Dit is onseker waar, en by watter geleentheid, hierdie foto geneem is, maar agterop die kiekie (wat so groot soos 'n posseël is) staan 5 Maart 1941. Van links is Izak (Boet) Murray (tans die enigste oorlewende), sy ma Nellie, sy pa Izak, sy suster Anna, sy tante Phoebé (gebore Grewar) Murray, en Phoebé se ma, Ignasina Wilhelmina (gebore Van Rooyen) Grewar.

Christoffel en Johanna se grafsteen

Christoffel en Johanna se grafsteen

Dié foto is deur Peter geneem. Die teks lui as volg:

Christoffel John Grewar
Geb. 28st Oct. 1840
Gest. 12de Aug. 1826
Johanna Dorothea Grewar
Nee Lourens
Geb. 21st Oct. 1843
Gest. 21st Dec. 1925
"Degenden, die ontslapen zijn in Jezus, sal gou, wederbrengen met Hem."

(c) Peter Murray, 2005. Laas bygewerk 2008-01-12. http://www.murray.za.net/grewar/fotos.html