Murray: Kort geskiedenis

Tuis

Jongste nuus

Saamtrekke en reünies

Murray: Kort geskiedenis
Murray: Stamboom

Murray: Naamstudie

Bedrywighede
Familiestaaltjies
Fotoalbum

Skakels
Kontak ons

www.murray.za.net

www.murray.za.net

Kort Geskiedenis van John Murray
Gebore 1785 te Edinburgh

Baie min inligting oor die voorgeskiedenis van ons stamvader John is tans beskikbaar. Ons is bewus daarvan dat hy ongeveer in 1785 te waarskynlik Edinburgh gebore is. Dit is altans wat in 'n sekere dokument in die Kaapse argief opgeteken staan. Ons is ook bewus daarvan dat hy in 1807 aansoek om permanente verblyf in Kaapstad gedoen het, dat hy in "Noord-Brittanje" gebore is en na Suid-Afrika gekom het om sy broer Samuel as 'n klerk by te staan in sy besigheid wat hy in Strandstraat 45, 46 en 47 bedryf het.

Sy broer Samuel was kinderloos en was met Anna Prideham getroud. Hulle is altwee in Kaapstad begrawe. Dis nie seker waar en wanneer John gesterf het, en wanneer en waar hy begrawe is nie. Hy is op 20 Februarie 1816 te Kaapstad met Martha Gysberta de Milander van Stellenbosch getroud. Martha is op 15 Julie 1792 op Stellenbosch in die N.G. Kerk gedoop. Die egpaar het 9 kinders gehad. Dit is ook bekend dat John in 'n stadium in 'n huis agter (of naby) die Kasteel gewoon het wat die naam "Musselburgh" gedra het.

Strandstraat 47 en ander adresse

Volgens die dokument wat sy aansoek om permanente verblyf in Suid-Afrika aandui, het hy aangevoer dat hy na die "kolonie" gekom het om sy broer SAMUEL as 'n klerk te kom help in sy besigheid wat hy bedryf het in Strandstraat 45 en 46. Later is Strandstraat 47 ook aangekoop. Dit is nie seker of Strandstraat 47 slegs aan John behoort het, en of dit die gesamentlike eiendom van die twee broers was nie. Feit is, in latere dokumente word John se adres as Strandstraat 47 aangedui.

Toe ek in 1985 in Kaapstad-Tuine gewoon het, het ek 'n paar foto's van interessante geboue en strate in Kaapstad gaan afneem. Een so 'n foto, is dié van MONEX HOUSE, wat op Strandstraat 45 en 47 gebou is. Dit is waar ondermeer die Portugese Konsulaat in 1985 gehuisves was. Of dit steeds daar is, weet ek nie. Omdat ek lankal nie meer 'n Kapenaar is nie, kan ek nie meer al die detail onthou nie, maar ek dink die destydse Bank van die Oranje Vrystaat (OVS BANK) was ook in dieselfde gebou gehuisves. Op die foto van die gebou op die hoek, Strandstraat 45, kan Oranjekleurige uithangborde gesien word, wat waarskynlik dié van die OVS Bank is.

Riebeekplein, waar John Murray die Walvisjagter en sy seun gewoon het, is nie ver van Strandstraat se eiendomme nie. Die plein het aanvanklik as Hottentotplein en later as Boereplein bekendgestaan voordat dit na Riebeekplein verander is. Riebeekplein lê tussen Kortmark-, Lang-, Waal-, en Buitengracht-strate.

Ons John het van 1814 tot 1815 in Langemarktstraat gewoon (die presiese nommer is onbekend). Van 1816 tot 1828 was John Murray se woonadres Strandstraat 45, dit wil sê, op die hoek van Langemarkt- en Strandstraat, waar die OVS BANK later sou gehuisves word. In 1829 het John sy adres as Stellenbosch aangedui en in 1830 as M/burgh Mount (waarskynlik Musselburgh naby die kasteel in Kaapstad). In 1833 was hy weer op Stellenbosch.

Geen bewyse kon gevind word waar hy in 1831, 1832 en 1834 gewoon het nie. Ook nie daarna nie. John se jongste seun, Hermanus Johannes, is in 1837 op Bredasdorp gebore en in 1844 aldaar gedoop. John was in Februarie 1854 (toe hy 68 jaar oud moes gewees het) 'n getuie by die doop van 'n kleinseun van hom – John Herman – op Franschhoek. John Herman was die seun van John Murray – die onderwyser wat in 1818 gebore is – en sy vrou Helena Josina de Milander (wat sy niggie was).

John die Walvisjagter

In vorige skrywes oor die Murrays is daar verkeerdelik na ons John verwys as die seun van John die walvisjagter. Latere navorsing het getoon dat daar meer as drie John Murrays, elkeen met sy seun John, gelyktydig aan die Kaap gewoon het. Daar is ook bewyse van die sterfdatums van sommige Johns wat nie rym met die geskiedenis van ons familie nie.

John die Onderwyser se familie

Die stamvader van die John Murray-familie in Suid-Afrika is John Murray wat ongeveer 1785 in vermoedelik Edinburgh, Skotland, gebore is. Baie min inligting oor ons stamvader is bekend. Daar word egter hard gesoek na dokumente wat sy geboorteplek en geboortedatum, sy sterfplek en sterfdatum, en sy graf en begrafnisdatum, aandui. Intussen volstaan ons maar met die inligting tot ons beskikking en hoop dat een of ander familielid (of ander belangstellende) eendag al die ontbrekende inligting sal vind en dit aan hierdie webtuiste beskikbaar sal stel.

Volgens die register van aangekome skepe in die argief van die Hawe-kaptein en Hawe-superintendent, Tafelbaai (verwysing PC 3/1) het John Murray op 12 Junie 1807 met die boot Orion in Tafelbaai aangekom. Op 18 Julie 1807 het hy 'n “Permission to Remain” van die Graaf van Caledon aangevra (CO3866 Nr 579). Die aansoek is op 30-7-1807 op rekord geplaas. Hy het op 20 Februarie 1816 te Kaapstad met Martha Gysbertha de Milander van Stellenbosch getrou. Sy is op 15 Julie 1792 te Stellenbosch gedoop. Die egpaar, wat 'n paar jaar in Kaapstad gewoon het, en waarskynlik later ook op Stellenbosch woonagtig was, het nege (9) kinders gehad.

Hul 9 (nege) kinders se name was: Margaret Murray, John Murray, Robert William Murray, Mary Isabella Murray, Samuel Murray, Hamilton Murray, Martha Murray, Henry Murphy Murray en Hermanus Johannes Murray:

1. Margaret (1816 - 1833) geen kinders.
2. JOHN (1818 - 1882) sewe kinders.
3. ROBERT WILLIAM (1819 - ?) tien kinders.
4. Mary Isabella (1822 - ?) ?
5. SAMUEL (1824 - ?) sewe kinders.
6. HAMILTON (1826 - 1907) sewe kinders.
7. Martha (1829 - ?) ?
8. HENRY MURPHY (1832 - 1869) sewe kinders.
9. HERMANUS JOHANNES (????).

Alle Murrays in Suid-Afrika wat dink dat hulle afstammelinge van een van bo-genoemde Murrays is, maar wat nie weet waar presies hulle inpas in die John Murray-stamboom of stamregister nie, moet my asseblief kontak.

My adresbesonderhede is: petermurray46@gmail.com. Peter Murray, Posbus 66503, Riebeeckstad, 9469. Of Benbowlaan 31, Riebeeckstad. Tel. (057) 388-2952 (na-ure).

(c) Peter Murray, 2005. Laas bygewerk 2011-01-14. http://www.murray.za.net/inleiding.html