Familiesaamtrek op Frankfort, 2007
Peter skryf:
Die eerste amptelike John Murray-familiesaamtrek in Suid-Afrika is Sondag, 23 September 2007, op Frankfort in die Noord-Vrystaat gehou. Sowat 70 Murrays het dié geskiedkundige geleentheid, om die 200ste verjaarsdag van die Murrays in Suid-Afrika te vier, bygewoon.
Mev Barbara (Murray) Vermaak van Frankfort, wat ook die oudste familielid by dié geleentheid was, en haar dogter (mev Marlene [Burgers] Müller van Frankfort), was die twee gasvroue. 'n Heerlike ete, wat 'n spitbraai ingesluit het, is deur dié twee op-en-wakker vroue voorgesit.
Daar is ook lekker gekuier en gesels oor die ou dae. Sommige neefs en niggies het mekaar nog nooit voorheen gesien nie. Dit was ook 'n geleentheid waarby die twee groepe – die Izak Murrays en die John Henry Elmslie Murrays – mekaar vir die eerste keer kon ontmoet, en leer ken het. Daar was ook 'n afstammeling van John Herman Murray, wat 'n broer van Izak Murray was. Sedert die stamvader in 1807 in Kaapstad aangekom het, is minstens 9 geslagte Murrays al in S.A. gebore.
Twee van die 9 stamme – John en Hamilton – was verteenwoordig. Hulle het van so ver as Springbok, Duiwelskloof en Lydenburg gekom, en daar was selfs gaste uit Londen en Texas in die VSA.
Daar word beplan om minstens elke 10 jaar 'n massasaamtrek, wat deur alle John Murrays bygewoon kan word, aan te bied. Kleiner saamtrekke, byvoorbeeld waar slegs die streek of provinsie betrek word, word ook in die vooruitsig gestel, en kan elke 3de of 5de jaar gehou word.
Mnr Andrew Murray van Sinoville, wat die voorsitter van die Charles Murray Bond van Suid-Afrika is, het die gaste toegespreek oor die geskiedenis en samestelling van die Graaff-Reinetse predikante-familie, wat in 1822 na ons land verhuis het.
Die hoop is uitgespreek dat daar by 'n volgende saamtrek ook afstammelinge van die ander stamme betrek sal word. Die uitdaging is dus om die “onbekende” Murrays te gaan soek en hulle uit te nooi om deel van die groter groep te word.
Alle Murrays wat dus nog nie op ons adreslys verskyn nie, word uitgenooi om die kontakpersone van hul bestaan te verwittig, en hul volle besonderhede te stuur. Die name en adresse van die kontakpersone verskyn elders op hierdie Murray-webwerf.

Neefs en niggies wat mekaar lanklaas, of selfs nog nooit voorheen gesien het nie, verskyn hier saam op dié geskiedkundige foto om die 200ste verjaarsdag van die John Murrays in Suid-Afrika te vier. (Die oudste en die jongste op hierdie foto verskil 20 jaar van mekaar). Voor: Rita (Murray) Smith van Reitz; Dawn (Murray) Pelser van Vereeniging; Nellie (Murray) Kemp van Harrismith; Marieta (Murray) Hoenderdos van Vereeniging; Barbara (Murray) Vermaak van Frankfort; en Margareet (Murray) van der Westhuizen van Springbok. Agter: Dina (Murray) Herbst van Duiwelskloof; Peter Murray van Riebeeckstad; John Henry Elmslie Murray van Vereeniging; Josef Murray van Hoedspruit; Johan van der Merwe Murray van Pretoria; en Izak (Boet) Murray van Pretoria.

Ongeveer 55 van die 70 gaste wat die Murray-saamtrek Sondag 23 September op Frankfort bygewoon het, verskyn hier op die foto.
|