Jongste webwerfnuus

Tuis

Jongste nuus

200-jaar-reünie

Murray: Kort geskiedenis
Murray: Stamboom

Murray: Naamstudie

Bedrywighede
Familiestaaltjies
Fotoalbum

Skakels
Kontak ons

www.murray.za.net

www.murray.za.net

Murray-saamtrek gehou 23 September 2007

Die Murray-saamtrek is gehou en was 'n groot sukses. Lees meer en kyk foto's op die reüniebladsy.

Ds Samuel Murray oorlede 18 Augustus 2005

Samuel Murray sr

Ds Samuel Murray B.A., Th.M., is op 18 Augustus 2005 in die ouderdom van 92 jaar in die ouetehuis op Humansdorp oorlede.

Hy was die jongste van 13 kinders en is op 21 Julie 1913 op Loxton in die Karoo gebore. Sy ouers was Izak en Dina (De Vries) Murray.

Wyle ds Murray het op Victoria-Wes in die Karoo en op Heilbron in die Noord-Vrystaat skoolgegaan. Na matriek is hy na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy 'n B.A.-graad verwerf het. In die 1937/1938-akademiese jaar het hy met 'n beurs aan die Princeton Theological Seminary in New Jersey, VSA., studeer, waar hy die graad Th.M. verwerf het.

Mev Murray het van 1936 tot 1938, ook met 'n beurs, aan die Iowa State University in Des Moines, VSA, studeer waar sy 'n M.Sc.-graad in Huishoudkunde/Moederkunde verwerf het.

Na sy legitimasie in 1938 het ds Murray vir sowat 3 jaar as hulpleraar in die gemeentes van Grootrivier (Louisvale), Fordsburg (Johannesburg) en Kensington (Port Elizabeth) gearbei.

Op 25 Februarie 1941 is ds Murray op Clocolan met Eunicé Phoebé Grewar in egte Voortrekkerdrag getroud. Mev Murray was die dogter van Peter George Lourens Grewar en Ignasina Wilhelmina (gebore Van Rooyen) Grewar, wat op die plaas Skeefkop, net buite Clocolan, geboer het.

Wyle ds Samuel Murray het die volgende gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika bedien: 1942 Paterson; 1947 Maraisburg (Hofmeyr); 1950 Leonard (S.W.A.); 1958 Vaalharts (Jan Kempdorp); 1964 Parkheuwel (Port Elizabeth); 1970 Windhoek-Hoogland (S.W.A.); en 1977 Kareedouw. Op 17 Maart 1980 het hy sy emeritaat ontvang en op Jeffreysbaai gaan aftree waar hy en mev Murray sowat 10 jaar lank gewoon het.

In 1990 het die Murray-egpaar na Ons Tuiste, 'n tehuis vir bejaardes op Humansdorp, verhuis. Mev Murray is op 21 Augustus 1994 in die tehuis op Humansdorp oorlede, en haar eggenoot 11 jaar later, op 18 Augustus 2005.

Ds Murray, wat 15 jaar lank 'n inwoner van Ons Tuiste was, was gewild onder lede van die personeel. Aan die begin het hy ook dikwels die huisgodsdiens vir die inwoners en personeel gehou.

Die egpaar laat 5 kinders, 11 kleinkinders en 2 agterkleinkinders agter.

(c) Peter Murray, 2005. Laas bygewerk 2008-01-12. http://www.murray.za.net/nuus.html